Ek het op Warrenton in die Noord-Kaap grootgeword.  Op die sypaadjie voor ons huis het twee groot bome gestaan wat my altyd fassineer het.  Dwarsdeur die jaar was hierdie twee bome van die lekkerste speelplek vir ons as kinders gewees.  In die somer het die bome se lowergroen blare ‘n goeie stuk skaduwee gegee vir Ma se Kombi en Pa se Kewer wat meestal daar gestaan het.  Herfstyd was die gras onder die bome omtower in ‘n blaretapyt en Pa moes gereeld die karre wegtrek sodat ons in die blare kon speel.  In die winter was die kaal takke van die bome ‘n perfekte plek vanwaar ons die wêreld kon bekyk en ‘n onskuldige verbyganger in die straat ‘n streep kon trek.  En in die lente was dit oortrek met die pragtigste lig- en donkerpienk blomme!  Dit was Blomperske-bome!  Wat vir my as ‘n 5-jarige knaap natuurlik baie snaaks was, was die feit dat dit “perskebome” is, maar daar was nooit ‘n enkele perske aan daai bome nie.

Die afgelope paar weke is daar oral in ons omgewing tekens van die lente en van nuwe lewe wat deurbreek.  Ja, die baie reën van die langnaweek het verseker groot skade gebring, maar dit het ons ook weer herinner daaraan dat daar nuwe lewe oppad is.  Agter in die pastorie se tuin is die clivias vol in blom.  In die berglane sien ek anderdag hoe jasmynblomme oor ‘n heining kruip en die lug vul met hulle heerlike geur.  Dan is daar sowaar ook ‘n yesterday-today-&-tommorrow wat amper uitspattig my oë gryp en in hulle rigting trek!  En ek praat nie eers van die skoonheid van die natuurlike fynbos van ons omgewing nie…

En dan dink ek na oor ons geloofslewe…  Dikwels is daar soveel mooi tekens van nuwe lewe in ons geloof.  Dikwels het ons die mooiste prentjie wat ons na mense uitstraal.  Dikwels probeer ons om kleurryk en flambojant aan die wêreld te wys dat ons in ‘n verhouding met God leef…

Maar waar is die vrugte?  Kan mense wat seergekry het by ons kom eet?  Is daar iets wat ons kan gee om te geniet vir hulle wat deur moeilike tye gaan?  Het ons vrugte wat ons sommer net kan deel met hulle wat elke dag ons lewenspad kruis?  Of is ons dalk blomperskes wat mooi lyk, maar nooit vrug dra nie?

Mag ons – as individue en as gemeente – regtig in hierdie tyd weer groei in God se tuin.  Mag ons lewens blom van Sy liefde.  En belangriker…  mag ons die vrug van die Gees dra, sodat mense by ons kan kom eet van God se genade!

Groetnis – Heinrich