God het ‘n droom vir jou!  Jy kan dit maar glo.  Dit is so dat God elkeen van ons uniek gemaak het en dat Hy ons roep om in ‘n verhouding met Hom te leef elke dag.  Maar Hy droom ook daaroor dat ons dié soort mense sal wees wat Hy graag wil hê ons moet wees.  Hy wil hê dat ons voluit sal leef en dat ek en jy ons volle potensiaal as mense sal bereik.  Hy het aan elkeen van ons unieke gawes en talente gegee.  En Hy wil graag hê dat ek en jy daardie gawes en talente sal ontwikkel.  Hy droom daaroor dat ek en jy in geloof aan Hom sal vashou, dat ons in liefde elke dag sal leef en dat ons sal hoop op ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde waar alles sal wees soos wat Hy dit oorspronklik bedoel het.

Maar daar is soveel goed wat maak dat ons van hierdie droom van God vergeet.  Of dat ons so besig is met die nagmerries van elke dag, dat ons nie die droom raaksien nie.

Miskien is jou verhouding met jou ou of meisie nou al lank besig om uitmekaar te val en dit lyk vir jou asof dinge net nooit gaan regkom nie.  Of jou ouers se huwelik is besig om te verbrokkel.  Dalk is jy vasgevang in die greep van dwelms of alkohol en jy sien net nie meer uitkomkans nie.  Of by die skool is daar hierdie een ou of meisie wat daarop uit is om jou lewe hel te maak.  Miskien wonder jy nou al wat vir jou wag na skool…werksgeleenthede is maar skaars en regstellende aksie maak dit ook nie makliker nie.  Of jy het die afgelope tyd ook een van die slagoffers geword van die vlaag van misdaad wat oor ons rol.

Miskien is jy sommer net in ‘n gat waarin dit vir jou voel of jy nie meer kan uitkom nie.  En dit alles maak dat jy nie meer God se droom vir jou lewe kan raaksien nie…

Jare gelede was ons as gesin by Sudwala Grotte.  Daar het ons hierdie boom gesien wat ten spyte van moeilike omstandighede tog sy volle potensiaal bereik het.  Kyk ‘n bietjie mooi na die manier waarop die wortels as’t ware om die rots en klippe vou en sodoende die boom stewig anker en voorsien van al die nodige voedingstowwe.  Die saadjie waaruit hierdie boom gegroei het kon ook maklik gedink het:  Ag, hoe sal ek tog nou hier kan groei?  Kyk net hoe klipperig is dit hier.  Waar sal ek nou water kry?  En hoe sal ek staande bly op so moeilike plek?

Ek glo dat God ook vir hierdie boom sorg.  As ons die geloof, hoop en liefde-beginsel toepas op hierdie boom kan ons dit so beskryf.  In die geloof het hierdie saadjie begin groei.  Geglo dat daar water sal wees.  In die hoop dat hy ‘n groot boom sal word, het hy sy wortels stewig laat ontwikkel en om die rots en klip gevou.  En in liefde sprei hy sy takke uit om skadu te gee vir die rondom hom.

Hierdie boom kan nie dink nie, maats.  Hy glo ook nie in God nie.  Hy het nie regtig hoop op ‘n wonderlike toekoms nie.  En hy verstaan heel moontlik ook niks van die liefde nie.  Maar ek en jy kan wel.  En ons kan leer by die boom.  Want sien, dit maak nie regtig saak in watter omstandighede jy jou bevind nie.  Dit maak nie saak hoeveel klippe en rotse in jou omgewing is en teen watter skuinste van die lewe jy jou bevind nie.  God sorg vir jou en Hy roep jou om Sy droom vir jou lewe uit te leef.

Ek wil jou uitnooi om saam met my te fokus op God se droom vir ons lewens.  Ek en jy kan nie noodwendig ons omstandighede verander nie, maar ons kan anders daaroor dink.  Ons kan vanuit God se perspektief daarna kyk en dalk net sien ons die geleenthede raak wat ons tot dusver nie kon sien nie.  Kom ons kyk so bietjie verder as ons omstandighede en streef daarna om ten volle te ontwikkel soos wat God ons bedoel het om te wees.  Kom ons vou ons wortels om die rotse en klippe van die lewe en soek na God se wonderlike krag wat vir ons elkeen daar is…