Verwelkomingswoord
Kleinmond, Bettysbaai, Pringlebaai en Rooiels is ‘n besondere streek om te woon. Ons hoop jy gaan gelukkig wees hier en dat jy ten volle by ons gemeente sal inskakel.
‘n Dienswerker sal met jou in verbinding tree en jou help met die inskakeling in die gemeente. Maar as dit om een of ander rede nie gou genoeg gebeur nie, kan jy self met ons kerkkantoor in verbinding tree. Hulle sal jou kan help om met jou dienswerker of wyksouderling in verbinding te tree – Tel: 028 271 3470.
Eredienste – Kom aanbid en sing saam met ons.
Ons gemeente het 3 bedieningspunte: Kleinmondkerk, bKuierkerk en Hangklipkerk waar daar elke Sondag erediens gehou word.
Kuierkerk (1ste Laan 36, Kleinmond) @ 08:00
Hangklipkerk (Pillansiaweg 2, Bettysbaai) @ 09:00
Kleinmondkerk (4de Laan 64, Kleinmond) @ 10:00
In die Kleinmondstreek sal daar gedurende skoolvakansies en langnaweke slegs een erediens om 09:00 in die Kleinmondkerk wees..
Geloofsvorming, saamkuier geleentheid vir ons jeug, word ook elke Sondag om 17:00 in die Kerksaal aangebied.
Oor die Desembervakansie word die dienste meer en daar word ‘n spesiale program daarvoor uitgegee.
Alle inligting is ook beskikbaar in die Kalender.
Ons leraars
Ds. Heinrich Carstens en Dr. Stephan Naudé is ons twee voltydse leraars. Ons het ook ‘n paar herders in die gemeente wat almal afgetrede predikante is en deel maak van ons pastoralebedieningspan.
Jy is welkom om enige van ons leraars of herders te bel en vra: “Kom maak by my ‘n draai” en hulle sal jou graag besoek. Indien jy onseker is bel gerus jou Dienswerker of die Kerkkantoor vir hulp.
Die wyksouderling
Hulle dien op die Wyksraad en sien toe dat die geestelike versorging in die wyke gedoen word. Dit behels siekebesoek, voorbidding, bemoediging uit die Skrif, ondersteuning en hulp met reëlings tydens sterftes. Hulle moet ook sorg dat die administrasie en kommunikasie in die wyk vlot verloop.
Die dienswerkers
Hulle is die gesig van die gemeente. Dit is die persone wat gereeld by jou sal uitkom en wat jou sal ondersteun wanneer jy siek is of onder een of ander beproewing gebuk gaan. En dan samel hulle dankoffers in by lidmate wat per kwitansie bydra en deel inligtingstukke, koeverte en nuusblaaie uit.
Die diakens en ouderlinge
In ons gemeente het die diakens en ouderlinge ’n spesifieke opdrag. Hulle is die voorsitters van die verskillende diensaksies (die diakens) en kommissies (die ouderlinge) en dien ook in hierdie hoedanigheid op die kerkraad.
Word deel van die span
Elkeen van die diensaksies en ons ander kommissies & bedieninge het soveel helpers nodig as wat hulle moontlik kan kry. Bied jouself dus daar aan waar jou belangstelling lê en skakel in.